26/08/2026
Wat as ’n persoonlike uitdaging begin het, het uiteindelik tot ’n suksesvolle fondsinsamelingsveldtog vir twee Ceres-ouetehuise gelei.
Toe Attie Heyns besluit het om die Washie 100 Miler, ’n 100-myl-ultramarathon van Cathcart na Oos-Londen, aan te pak, is besluit om die geleentheid te gebruik om fondse vir Huis PJ Strauss en Huis Maudie Kriel in te samel.
Die aanvanklike teiken van R50 000 is ruim oorskry. Meer as R151 000 is deur skenkers van regoor Suid-Afrika en die buiteland bygedra, wat beteken dat die uiteindelike bedrag meer as drie keer die oorspronklike teiken was.
Heyns het die wedloop suksesvol voltooi en het hierdie week die fondsinsameling met die oorhandiging van groot simboliese tjeks aan verteenwoordigers van die twee ouetehuise afgesluit.
Hoewel Heyns die uitdaging aangepak en die wedloop voltooi het, is die sukses van die fondsinsamelingsveldtog aan die ruimhartigheid van die skenkers te danke. Die bydraes gaan oor meer as die geld wat ingesamel is – dit is ook ’n blyk van die waardering en respek wat die inwoners van Huis Pieter Strauss en Huis Maudie Kriel geniet.
Die fondse sal tussen die twee tehuise verdeel word en aangewend word vir projekte wat tot voordeel van hul inwoners strek. Die omvang van die ondersteuning, ook van mense buite Ceres, het terselfdertyd gewys dat belangstelling in die twee instellings en hul inwoners veel verder as die plaaslike gemeenskap strek.