01/05/2026
Dankbaar dat ons span, Marjorie van Schalkwyk, Carl Meyer saam met ons advokate, Etienne Botha, SC en Paul Eilers hierdie deurslaggewende wen vir AfriForum kon waar maak!
https://www.netwerk24.com/nuus/hof/kaapse-metro-kry-dwarsklap-in-hof-oor-sy-onwettige-tariewe-20260430-0916
Die Kaapstad-metro het Donderdag ’n beslissende regsvernedering gely toe die hooggeregshof in Kaapstad drie omstrede vaste tariewe – ’n stedelike skoonmaakheffing, ’n vaste watertarief en ’n sanitasietarief – onwettig, ongrondwetlik en ongeldig verklaar het, en daarmee bevestig het wat eiendomseienaars en burgerregteorganisasies aangevoer het: dat die metro sy wetlike bevoegdhede oorskry het deur eiendomswaardes te gebruik as grondslag vir die berekening van diensteheffings.
Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, het hierop gesê dié uitspraak kan ’n nadelige impak op laer- en middelklashuishoudings hê, juis diegene wat die metro wil probeer beskerm.
Regters Nolwazi Mabindla-Boqwana, regter-president, Kate Savage en Andre le Grange het bevind dat die tariewe soos wat die metro dit vir die 2025-’26-boekjaar bereken het, ongrondwetlik is.
Die tariewe is vanaf 30 Junie 2026 opgeskort, met die stadsraad wat die volgende boekjaar se tariewe ingevolge die wet moet bereken.
Agtergrond
Die Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika (Sapoa) en AfriForum het die Kaapstad-metro voor die hof gedaag nadat die metro die drie nuwe vaste tariewe op sy raadsvergadering van 26 Junie 2024 aanvaar het. Die tariewe, wat bereken word op grond van eiendomswaarde, is reeds op residensiële eiendomme van toepassing.
Die applikante het aangevoer dat die metro nie die wetlike bevoegdheid het om eiendomswaardes as grondslag vir diensteheffings te gebruik nie en het gevra dat die tariewe onwettig, ongrondwetlik en ongeldig verklaar word.
Die metro het dit teengestaan en aangevoer dat die tariewe grondwetlik is en dat hy daardeur sy verpligting om basiese dienste te lewer, nakom. Verder het die metro gewaarsku dat die applikante se interpretasie plaaslike regering se vermoë om dienste te lewer, ernstig sou beperk.
Uitspraak
Die hof het ten gunste van Sapoa en AfriForum beslis en bevind dat die heffings – wat reeds sedert die begin van die 2025-’26-boekjaar op residensiële eiendomme van toepassing is en vanaf 1 Julie 2026 ook na kommersiële eiendomme uitgebrei sou word – die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, die Wet op Waterdienste en die metro se eie tariefverordening skend, en beveel dat dit met ingang van 30 Junie 2026 tersyde gestel word.
Die metro se poging om die heffings te red deur sleutelbepalings van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels ongrondwetlik te laat verklaar (in teenaansoeke), is van die hand gewys, en is beveel om die regskoste van al die applikante te betaal.
Metro oorweeg appèl
Die metro het ná die uitspraak aangedui dat hy sy regsopsies, insluitend ’n moontlike appèl, noukeurig ontleed.
Indien die metro appelleer, sal die hofbevel opgeskort word, maar bly die huidige 2025-’26-tariefstruktuur slegs van krag tot 30 Junie 2026.
Hill-Lewis het gesê dat die uitspraak ’n omgekeerde uitwerking kan hê en dat die gebruik van eiendomswaardes as grondslag vir vaste heffings juis bedoel was om laer- en middelinkomste-huishoudings te beskerm deur kruissubsidiëring moontlik te maak. Volgens die metro sal almal sonder dié benadering dieselfde vaste heffing betaal, ongeag hul inkomste, wat beteken dat armer gesinne meer sal betaal terwyl welgestelde huishoudings minder betaal.
Indien die uitspraak nie geappelleer word nie, moet stedelike skoonmaakkoste teruggeplaas word in die eiendomsbelastingrekening, wat die koers van huishoudelike tariewe sal verhoog. Volgens die metro ondermyn dit die metro se voorgestelde verlaging van 10,2% in die koers van huishoudelike tariewe vir die 2026-’27-begroting.
Die metro het benadruk dat die sny van die infrastruktuurbegroting nie ’n opsie is nie aangesien dit dienslewering aan alle inwoners sal benadeel.
Die vraag of belastingbetalers vergoed sal word vir die onwettige tariewe wat die afgelope jaar betaal is, is nie deur die metro beantwoord nie.
Applikante se kommentaar
Neil Gopal, uitvoerende hoof van Sapoa, het gesê hulle is verheug oor die uitspraak en sien uit na konstruktiewe oorleg met die metro ten einde ’n wettige begroting vir die volgende boekjaar te bereik wat aan die behoeftes van die belastingbetalers en die metro voldoen.
Gopal het egter met kommer kennis geneem van die metro se aanduiding dat hy die saak wil appelleer.
“Sapoa dring by die metro daarop aan om nie verdere belastingbetalersgeld te vermors nie, die hof se goed beredeneerde uitspraak te aanvaar, en in plaas daarvan sy aandag te fokus op die lewering van ’n wettige begroting vir 2026-’27.”
Sapoa dring ook aan dat ander munisipaliteite in die land kennis neem van die uitspraak en enige nuwe tariewe of heffings wat hulle moontlik wil instel noukeurig te oorweeg ten opsigte van die wettigheid daarvan.
Volgens Jurie Ferreira, streekshoof vir AfriForum, moet tariefstrukture deursigtig, rasioneel en wetlik verdedigbaar wees. “Enige poging van munisipaliteite om ’n inkomste te genereer deur arbitrêre of indirekte maatstawwe, val vierkant buite die raamwerk van die wet – en die hof het dit nou weer herbevestig,” verduidelik Ferreira.
Ferreira beklemtoon dat die uitspraak bevestig dat die howe steeds ’n kritieke rol speel om burgers te beskerm teen die regering se onregverdige praktyke.
Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, benadruk dat hoewel die uitspraak spesifiek betrekking het op die toepassing van dié tariefmodel in die Kaapstad-metro, die beslissing ook belangrike implikasies inhou vir munisipaliteite in die res van die land.
Mostert voeg by: “Die uitspraak kom op ’n deurslaggewende tydstip in die begrotingsiklus. Dit dwing nie net die Kaapstad-metro nie, maar ook alle munisipaliteite nou om hul benadering tot tariefbepaling reg te stel. Dit kom neer op ’n eenvoudige beginsel: jy betaal vir dit wat jy gebruik, niks meer nie.”
Die hooggeregshof in Kaapstad het bevind die Kaapstad-metro het in die laaste finansiële jaar onwettig tariewe, belasting en heffings, gegrond op eiendomswaardasies, bereken.