01/06/2026
Veels geluk met jou aanstelling as die nuwe skoolhoof van Christelike Skool, Paula!
𝘗𝘢𝘶𝘭𝘢 𝘉𝘶𝘵𝘭𝘦𝘳 𝘴𝘬𝘳𝘺𝘧: Dit is vir my ’n groot voorreg en seën om myself aan u voor te stel as die nuwe skoolhoof van Parys Christelike Skool. Ek sien met opgewondenheid daarna uit om deel te wees van hierdie besondere skoolgemeenskap en om saam met ons leerders, personeel en ouers aan ’n blink toekoms vir ons kinders te werk.
Ek beskik oor ’n BA-graad (Sielkunde, Engels, Afrikaans en Nederlands) sowel as ’n Nagraadse Sertifikaat in Onderwys (Verdere Onderwys- en Opleidingsfase). Gedurende my loopbaan het ek waardevolle ervaring in hoërskoolonderrig sowel as in die VOO-kollege sektor as dosent opgedoen. Hierdie ervaring het my passie vir onderwys verdiep en my oortuiging versterk dat elke leerder die vermoë het om sukses te behaal wanneer hulle die regte ondersteuning en leiding ontvang.
Ons skool se Christelike waardes vorm die fondament van alles wat ons doen. Daarom streef ons daarna om ’n veilige en gedissiplineerde omgewing te skep waar leerders nie net akademies nie, maar ook geestelik, emosioneel en sosiaal kan groei en ontwikkel.
My visie vir die skool is om ’n kultuur van uitnemendheid, respek en samewerking te bevorder. Ek glo sterk in die belangrikheid van ’n positiewe en gesonde werksverhouding met ons onderwysers en personeel, aangesien goeie spanwerk ’n sleutelrol in die sukses van enige skool speel.
Ek glo verder daarin om elke leerder holisties te ondersteun en te ontwikkel, terwyl akademiese prestasie steeds die kernfokus bly. Ons wil elke kind toerus met kennis, waardes en selfvertroue sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik.
Ek sien daarna uit om elkeen van u beter te leer ken en saam met u te werk tot voordeel van ons leerders en skoolgemeenskap.
Mag ons saam voortbou aan ’n skool waarop ons almal trots kan wees.
Dit is vir my ’n groot voorreg en seën om myself aan u voor te stel as die nuwe skoolhoof van Parys Christelike Skool. Ek sien met opgewondenheid daarna uit om deel te wees van hierdie besondere skoolgemeenskap en om saam met ons leerders, personeel en ouers aan ’n blink toekoms vir ons kinders te werk.
- Paula Butler