02/05/2023
IS DIT WETTIG OM SONDER `N DIENSKONTRAK TE WERK?
Daar is nie ʼn algemene vereiste in ons arbeidsreg dat ʼn werknemer ʼn formele dienskontrak moet hê wat alle aspekte van die diensverhouding reguleer nie.
Alle persone wat as werknemers geag word ingevolge artikel 83A van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, artikel 200A van die Wet op Arbeidsverhoudinge, en die gemenereg, geniet die beskerming van bestaande arbeidswetgewing en beginsels.
Die feit dat jy nie ʼn formele dienskontrak het nie, beteken dus nie dat jy geen beskerming geniet nie, en die vraag of iemand ʼn werknemer is, word bepaal aan die hand van riglyne en maatstawwe in wetgewing en gemenereg.
Dit is egter wenslik vir werknemers om dienskontrakte te hê wat belangrike aspekte van indiensname soos posbeskrywings, werksure, vergoeding, dissiplinêre kodes ensovoorts reguleer ten einde onnodige dispute te vermy, en duidelikheid rondom die regte en verpligtinge van beide partye in die diensverhouding te gee.
Sou daar egter nie ʼn volledige dienskontrak wees nie, is werknemers wel geregtig om aanspraak te maak op nakoming deur die werkgewer van artikel 29, 31, en 33 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes.
Artikel 29 vereis dat ʼn werkgewer aan ʼn werknemer die volgende besonderhede op skrif met die aanvang van diens moet verskaf:
Volle naam en adres van die werkgewer.
Die naam van die werknemer en sy postitel, of ʼn kort beskrywing van die werk waarvoor hy of sy aangestel is.
Die plek van werk (waar daar op verskeie plekke gewerk word, ʼn duidelike aanduiding daarvan).
Die datum van indiensname.
Normale werksure en dae waarop gewerk word.
Die betaling, of die uurlikse fooi en metode van berekening daarvan.
Die betalingskoers vir oortyd werk.
Enige ander kontantbetalings waarop die werknemer geregtig is.
Enige goedere of dienste ontvang in ruil vir werk gelewer, asook die waarde daarvan.
Die intervalle van betalings.
Enige aftrekkings van die betaling.
Verlof waarop die werknemer geregtig is.
Die vereiste kennisperiode vir diensbeïndiging, of die datum van opskorting van die diensverhouding.
ʼn Omskrywing van enige bedingingsraad of sektorale bepalings waaronder die besigheid val.
Enige periode van indiensname by ʼn vorige werkgewer wat tel as ʼn tydperk van werk by die huidige werkgewer.
ʼn Lys van dokumente wat deel van die dienskontrak vorm, asook aanduiding van ʼn plek waar dit redelikerwys toeganklik is vir die werknemer om ʼn afskrif daarvan te verkry.
Waar enige aspek van die bogenoemde bepalings verander, moet dit skriftelik vervat word, en die werknemer moet ʼn afskrif van die gewysigde bepalings ontvang.
As die werknemer nie die geskrewe dokument verstaan nie, moet die werkgewer verseker dat die bepalings aan die werknemer in ʼn taal en op ʼn wyse wat die werknemer kan verstaan, verduidelik word.
Die geskrewe besonderhede van indiensname moet vir drie jaar na diensbeëindiging deur die werkgewer behou word.
Artikel 31 vereis dat elke werkgewer ʼn rekord moet hou van ten minste die volgende belangrike inligting:
Die werknemer se naam en postitel.
Die tyd wat elke werknemer gewerk het.
Die betaling wat aan elke werknemer gemaak is.
Die geboortedatum van enige werknemer onder die ouderdom van 18 jaar.
Enige ander inligting wat voorgeskryf word deur wetgewing of die minister van arbeid.
Bogenoemde rekords moet vir drie jaar van die datum van laaste inskrywing op die betrokke rekords gehou word. Geen persoon mag ʼn vals inskrywing maak nie.
Artikel 33 van die Wet vereis dat elke werknemer met die volgende inligting verskaf word op die dag wat hy of sy betaal word:
Die werkgewer se naam en adres.
Die werknemer se naam en postitel.
Die periode waarvoor betaling gemaak word.
Die werknemer se betaling.
Die bedrag en doel van enige aftrekkings van betaling.
Die werklike bedrag na aftrekkings wat aan die werknemer betaal word.
Indien dit relevant is tot die berekening van betaling:
die werknemer se oortydbesonderhede;
die aantal normale ure en oortydure vir die betalingsperiode gewerk;
die aantal ure op Sondae en publieke vakansiedae gewerk; en
die totale aantal ure gewerk.
Bogenoemde geskrewe inligting moet aan die werknemer by die werkplek verskaf word, of by ʼn plek afgespreek tussen werknemer en werkgewer, en dit moet tydens die werknemer se normale werksure, of binne 15 minute voor of na werk plaasvind.
Waar werkgewers nie die bogenoemde basiese reëls ten opsigte van rekordhouding, diensvoorwaardes en betalingsinligting wil nakom nie, word werknemers aangeraai om ʼn klagte vir die nienakoming van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes by die naaste dienskantoor van die departement van arbeid te lê.
Dit gebeur ongelukkig dat personeel wat verantwoordelik is vir bogenoemde aspekte, naamlik betaalstrokies, dienskontrakte, en rekordhouding van werksure soms hierdie werk beskou as ʼn onbelangrike administratiewe taak sonder om te besef dat hulle werknemers se regte benadeel en die werkgewer aan aksie deur die Departement blootstel.
Arbeidsinspekteurs van die departement van arbeid is by magte om die perseel van ʼn werkgewer te betree, rekords na te gaan, boetes vir nie-nakoming uit te reik, en bindende nakomingsbevele aan werkgewers te gee.