10/08/2026
MY LEWE IS IN U HANDE....
“In U hand is my tye.” – Psalm 31:16
Daar is dae wanneer alles onseker voel. Die toekoms lyk vaag, finansies druk, gesondheid wankel, verhoudings raak gespanne, en ons vra: “Here, waarheen nou?” Tog is daar een waarheid wat nooit verander nie: jou lewe is in God se hande.
Psalm 31 is geskryf deur Dawid, ’n man wat vervolging, teleurstelling en gevaar geken het. Hy het nie gesê dat sy omstandighede maklik was nie, maar hy het verklaar dat sy tye in elke seisoen, elke dag, elke traan en elke oorwinning in God se hand is. Dit beteken dat niks wat met jou gebeur, buite God se kennis en sorg is nie. God sien die pad wat jy nog nie kan sien nie.
Wanneer jy jou lewe aan God oorgee, gee jy nie beheer prys aan die noodlot nie maar jy plaas dit in die hande van ’n liefdevolle Vader wat getrou is. Sy hand is nie ’n hand wat vernietig nie, maar ’n hand wat dra, beskerm, lei en herstel. Die hand wat die see oopgemaak het, die leeus se bekke toegesluit het en Jesus uit die dood opgewek het, is dieselfde hand wat vandag jou lewe vashou.
Miskien voel jy asof dinge buite beheer is. Onthou dan, wat buite jou beheer is, is nooit buite God se beheer nie. Hy werk selfs wanneer jy dit nie kan sien nie. Vertrou Vsder met jou huwelik, kinders, werk, gesondheid en toekoms.
Gebed: Here, ek plaas vandag my lewe opnuut in U hande. Ek kies om U te vertrou, selfs wanneer ek nie alles verstaan nie. Lei my en beskerm my en vervul U wil in my lewe. Amen.
Onthou vandag: As jou lewe in God se hande is, is jou toekoms in veilige hande.
Past. Stef
(Sou jy daagliks dagstukkies ontvang stuur jou Naam & Van na die volgende whatsapp nommer 082 462 6755 )