26/11/2025
Mag jy jou huis of woonstel in ’n residensiële kompleks op Airbnb verhuur?
“Huiseienaars wat verhuur, word ryk terwyl hulle slaap.” (John Stuart Mill, ekonoom, vertaal.)
As jy daaraan dink om ’n huis of woonstel in ’n residensiële kompleks te koop (of reeds een besit) met die doel om dit as ’n Airbnb te verhuur moet jy versigtig te werk gaan. Hetsy jou planne permanent is of selfs op ’n “ek gaan hierdie Kersfees ’n fortuin maak” basis.
’n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof bevestig dat die regspersoon of huiseienaarsvereniging (HEV) jou reg om jou eenheid te verhuur, binne perke mag reguleer en aan bande kan lê.
Inwoners teenoor Huurders.
Die agtergrond van hierdie dispuut is ’n groot residensiële ontwikkeling in die Silver Lakes-gebied van Pretoria. Die ontwikkelaars bied dit aan as “’n gesinsgeoriënteerde leefstyllandgoed waar gesinne die verskeidenheid geriewe - insluitend die buitelewe, strand en wateraktiwiteite - in ’n veilige en beskermde omgewing kan geniet.”
Baie van die geregistreerde eienaars woon egter nie permanent in die kompleks nie, maar verhuur eerder hul eenhede op 'n korttermynverhuringsbasis as vakansieverblyf uit, gewoonlik vir een tot drie dae op 'n slag.
Volgens die Huiseienaarsvereniging (HEV) veroorsaak dit ’n ernstige probleem vir inwoners. Die vakansiegangers wat die eenhede huur kom dikwels nie die reëls en die gesinsgeoriënteerde etos na wat die kompleks probeer handhaaf en beskerm nie. Volgens die HEV is die korttermynhuurders meestal daar om partytjie te hou en hulself te vermaak. Dit lei natuurlik tot eindelose klagtes van inwoners oor geraas, oorbevolking, verkeersopeenhopings, ontwrigtende gedrag, sekuriteitsrisiko’s en soortgelyke probleme.
Aangesien die oorspronklike gedragsreëls onvoldoende was om hierdie situasie aan te spreek, het die Huiseienaarsvereniging nuwe, strenger reëls vir korttermynverhuring ingestel. Onder meer is eienaars verbied om hul eenhede vir minder as drie maande te verhuur, sonder die HEV se voorafgaande toestemming. Oortredings van hierdie reël het ’n boete van 90% van die maandelikse heffing vir die betrokke eienaar tot gevolg.
Hierdie reëls is aanvanklik deur die Gemeenskapskema-ombudsdiens (CSOS) goedgekeur. Die gewysigde reëls is egter deur ’n groep eienaars wat met hul korttermynverhuringsaktiwiteite wou aangaan, betwis. Die Gemeenskapskema-ombudsdiens se Ombud het die gewysigde reëls as ongeldig en onredelik beskryf en daarom tersyde gestel. Die Ombud verwys na die landgoed as “’n ontspannings en vakansie-oord-leefstyllandgoed waarin die teenwoordigheid van nie-permanente inwoners die norm is”.
Die HEV het by die Hooggeregshof teen hierdie bevel geappèlleer. Die hof het ’n tussentydse bevel uitgereik wat die gedeelte van die CSOS bevinding wat die reëls tersyde stel, opskort. Die hof het hiermee verseker dat die strenger, gewysigde reëls wel van krag bly totdat die appèl afgehandel is.
Wat beteken dit prakties vir HEV's, regspersone en eenheidseienaars?
Die hof se bevel is slegs ’n tussentydse bevel, totdat die finale uitslag van die appèlproses bekend is. Die feit dat die hof nie die strenger reëls op hierdie stadium tersyde gestel het nie, is ’n voorlopige bevestiging van die reg van HEV’s en regspersone om korttermynverhuring op hierdie wyse te reguleer.
Ons sal moet wag vir die finale uitslag van die appèl vir finale duidelikheid hieroor. Soos altyd gaan elke saak ook op grond van die spesifieke feite en meriete beoordeel moet word. Ons howe het reeds soortgelyke streng gedragsreëls gehandhaaf, dit blyk logies dat die howe dit in soortgelyke gevalle weer sal ondersteun.
Hier is ’n paar gedagtes oor hoe om hierdie netelige kwessie intussen te hanteer. Om aan die veilige kant te bly:
• Korttermynverhuurders: Die feit dat die hof wel die HEV se strenger reëls oor korttermynverhuring voorlopig steun, is 'n waarskuwing om versigtig te werk te gaan voordat jy jou eenheid op ’n korttermynbasis verhuur. Gaan ten minste jou kompleks se gedrags- en verhuringsreëls deeglik na. Onthou ook dat jy – selfs al word korttermynverhuring nie uitdruklik verbied nie – steeds aanspreeklik bly vir enige oortreding van die reëls deur jou gaste. Maak dus seker dat jou verhuringsooreenkoms jou gaste verplig om alle gedrags- en ander reëls van die kompleks na te kom. Dit is verder belangrik dat jy vasstel of jul plaaslike owerheid se sonerings- of ander regulasies dalk ook jou regte in hierdie verband beperk.
• Huiseienaarsverenigings en regspersone: Op grond van die algemene beginsel dat julle die bevoegdheid sowel as die verantwoordelikheid het om die regte van alle eienaars te oorweeg, behoort julle die risiko’s wat ‘n deurlopende omset van gaste in die kompleks meebring, aan te spreek deur reëls aan te neem of te verskerp wat korttermynverhuring reguleer of verbied. Die term “korttermynverhuring” word nie formeel gedefinieer nie, maar bestaande regspraak verwys meestal na gedragsreëls wat verhuring vir korter as drie maande of ses maande op ’n slag verbied. Maak seker dat enige reëls behoorlik aanvaar word (via spesiale resolusie indien nodig) en dat die reëls beide geldig en redelik is. Die reëls moet die mededingende regte van verhuurders en permanente inwoners teen mekaar opweeg en balanseer en hul toelaat om hul eiendomme te gebruik en te geniet soos hulle verkies. Indien die reëls afgedwing moet word, moet dit op ’n billike en redelike wyse geskied.
Hierdie uitspraak is nog nie finaal nie, wel aanduidend van die rigting waarin die regspraak neig.
Die Hooggeregshof se uitspraak is voorlopig en die finale uitslag van die HEV se appèlproses moet nog kom. Dit dui wel sterk op die waarskynlikheid dat ons howe beperkings op korttermynverhuring sal afdwing, mits die beperkings billik, redelik en regmatig ingestel en toegepas word. Ongeag die finale beveinding, bly deursigtigheid en openlike kommunikasie tussen die HEV of regspersoon en die eienaars in komplekse belangrik om geskille en konflik te voorkom.
Kon hierdie dispuut vanuit die staanspoor in die Hooggeregshof hanteer word?
Vorige uitsprake het daarop gedui dat gemeenskapskema-geskille in die afwesigheid van “buitengewone omstandighede” altyd eers na CSOS verwys moes word vir beslegting. ’n Onlangse uitspraak van die Appèlhof het nou bevestig dat die aansoeker ’n keuse het – jy kan die saak óf by die Gemeenskapskema-ombudsdiens óf direk by die Hooggeregshof aanhangig maak.
Om jou direk tot die hof te wend kan jou van twee opeenvolgende stelle verrigtinge spaar (soos in hierdie saak, waar die partye steeds nie ‘n finale oplossing het nie), maar wees versigtig. Die Gemeenskapskema-ombudsdiens se geskilbeslegtingsdiens behoort altyd vinniger, meer bekostigbaar en minder formeel as hofverrigtinge te wees. As die hof wel van mening is dat jy nie geregverdig was om die hof direk te nader nie, kan die hof ’n bestraffende kostebevel teen jou toestaan. Kies dus met omsigtigheid.
Hier is baie grys areas en moeilike besluite ter sprake. Moenie huiwer om ons vir advies oor jul spesifieke situasie te nader nie.
LawDotNews